KLEURE EN DIE BINNEMENS  -  DIE PSIGIESE EFFEK

Voordat ons afstap van die basiese drieling, is dit belangrik om daarop te let dat kleur as sodanig nie net ‘n gewoon fisiese verskynsel is nie. Dit het  ook ‘n belangrike metafisiese eweknie waarna reeds in die eerste aflewering van hierdie reeks verwys is. Daarom die interaksie: ‘Kleure en die Binnemens’ – oftewel ‘Kleur-&-Gevoel’,  dus die psigiese invloed van kleur. In die studie “Goethe’s Theory of Colour” (Applied by Maria Schindler) E stel laasgenoemde hierdie dualiteit in duidelik perspektief. Trouens, begrip van hierdie werklikheid is die fondament vir enige vorm van kleurgebruik – maar veral vir die kunsskilder.

Delf ‘n mens dieper in die soeke na die aard van die primêre- en die komplimentêre kleure, ontdek jy in albei gevalle die neiging tot die vorming van drietalle. Dit beteken al die verskille in ‘gevoel’  word in ‘n groot mate deur die interaksie van drie kragte bepaal.

“Dit is wesentlik vir die ernstige skilder om ‘n objektiewe en diepgaande begrip te ontwikkel vir hierdie invloede op die binnemens. Weet hy watter gevoelens bepaalde kleurkombinasies wek, kan hy toonwaardes gebruik wat by die siel van die onbevange toeskouer op dieselfde ‘golflengte’ inskakel ten opsigte van wat  weergee word”, sê Schindler oor die praktiese toepassing van Goethe se kleurstudies.

“Reeds teen die middel van die 20ste eeu was dit al duidelik dat mense se reaksie ten opsigte van kleur se eiesoortige onveranderbare wette moes plek maak vir persoonlike smaak en siening. Daarom dui vandag se sogenaamde verligtheid op ‘n chaotiese afsaksel in die mens se siel wat twyfel wek oor die geestelike aard van kleur. In die kleureryk kan hierdie twyfel net wyk wanneer die basiese elemente van die effek van kleur in diepte van kennis geneem word.

“Wanneer die skilder dit beproef in ooreenstemming en met inagneming van die mens se natuurlike sielseienskappe, word hierdie oënskynlike dualiteit in ‘n hegte eenheid gebind. Die gevolg: Die kunstenaar ontdek gou dat sy eie gevoelens bevry raak uit die smal gang  van eie voorkeure en hy hom met vreugde in die werklike kleure-sensasie kan verlustig.

“Hierdie fenomeen kan ‘n wonderlike ervaring vir elke mens word. Sekerheid by die gebruik van kleur word ingeskerp. Soos die swel en eb van melodieë die intensiewe luisteraar beïnvloed, lei die bewustelike gebruik van versoenende of teenstrydige kleure die onbedorwe toeskouer direk in die gevoelsfeer wat die kunstenaar wou skep.

“Egte kleurervarings berus op die harmonieuse, of enkelsydige verspreiding van die drieling – geel, blou en rooi. Onbewustelik het elke mens ‘n blywende hunkering na dié drieling. Dis ‘n waarheid wat net sin kan maak wanneer ‘n mens terselfdertyd bewus is van die drievoudige struktuur van die menslike siel. Dit gaan dus oor die voortdurende innerlike stryd om harmonie tussen die drie grondeienskappe, naamlik denke, wil en gevoel:

  • Soms het helder denke die oorhand wat maklik aanleiding gee tot bepaalde psigiese koudheid;
  • Of die oorywerige wil kan onbeteuelde neigings toon wat behae daarin skep om met ongesonde drifte vure aan te steek;
  • En as teenvoeter – ‘n oorsensitiewe emosionele “gevoel” kan die ander twee só onderdruk dat stompsinnigheid begin intree.

Wanneer die primêre ‘drieling’ harmonieus in ‘n kunswerk aanwesig is, voel die siel ook gebalanseerd en is nie geïrriteerd of depressief nie. Eweso kan werke met óf te veel óf te min van een van die drie, die teenoorgestelde effek toon,” aldus Schindler.

E “Goethe’s Theory of Colour”  – (Applied by Maria Schindler) – 1964 Edition

New Knowledge Books, 18 Elizabeth Crescent, EAST GRINSTEAD, Sussex. England.

“Sleeping Beauty in vroeë Môremis”

(Langeberge, Riversdal.) 70 cm x 50 cm – Akriel op doek.

Hierdie werk is vanaf onderlae enduit net met skakerings van die drie primêre kleure en wit opgebou. Aanduidings van komplimentêre onderlaag tinte is subtiel in die oorspronklike werk sigbaar en beïnvloed veral die diepte-balans.

Kwetterwerf (BLOG):  http://voetpadmetkleur.wordpress.com

Webwerf:  www.louw.co.za

Rooi in Wit

ROOI  is die laaste vennoot van die groep primêre kleure wat op ‘n spesifieke manier op die mens se gevoel aanspraak maak en daarmee, weens ‘n unieke aard, die penne van sy kleim op ‘n eie manier in die kleuresfeer inslaan.

Vermiljoen-rooi (Vermilion is die beste keuse vir hierdie oefening).

Rooi wek ‘n totaal ander gevoel van ‘krag’ wat jou in jou binnemens as konfronteer. Dit wek ‘n ondubbelsinnige gevoel van weerstand ten opsigte van WIT (Fig. 7). Dit word veral duidelik wanneer  in ( Fig. 8 ) probeer word om die vorige (Fig’e. 2 en 5) soos by GEEL en BLOU te herhaal, verduidelik Koch en Wagner D.

Fig.  7                                                                       Fig.  8

Dadelik ervaar jy dit: Die krag waarmee ROOI sigself in Fig. 7 aanmeld, word in Fig. 8 ondermyn. Dis soos vloeiende water op sand wat knaend die sand onder jou voete wegkalwe. In goeie Afrikaans sou ek rooi graag ‘n ‘EGO’-kleur wil noem – daarmee wil ek sê dis dié kleur met die sterkste eiesoortige ‘EK’kigheid van aard!

‘n Gewilde Engelse benaming vir ROOI is “PUT COLOUR” – bedoelende daarmee `voorop’ ten opsigte van kleurperspektief – presies die teenoorgestelde van BLOU wat ruimtelik verder verflou en jou agterna trek. Iets van Rooi se EKkigheid spreek ook uit die opsigtelike gebruik daarvan in “Plaasdam op die Waterberg-plato” (Hieronder).

‘n ROOI boom? ‘n Mens sien dit minstens eerste teen die agtergrond van die res van die landskap. En hoe langer jy stip daarna staar, hoe interessanter raak die strelende komplimentêre groen wat sigself in die oog voordoen aan die buiterand van die rooi. Dis boonop ‘n sagter groen as ‘bloekomboom-groen’ weens ‘n “veeg” warmkleur son bykans op die horison.

Eie Nis

En só is elk van die “primêre drieling” in wese en aard die mees individuele vertolker of beliggaming van ‘n sleutelposisie of eie nis in die totale kleuresirkel.

Dis die skilder wat nie met kleur nie, maar vanuit kleur probeer skilder,  se taak om op grond van soortgelyke insigte sy eie kleur-harmonieë in die natuur te ontdek. Hy moet vir homself duidelikheid  kry oor wat gebeur met geel, blou en rooi wanneer hulle na òf die “warm” òf die “koue” kant oorhel. Bly geel nog geel? Bly blou nog blou? Bly rooi nog rooi?

Volgens Koch en Wagner D is antwoorde op hierdie vrae te soek aan die hand van ‘n kleuresirkel wat juis op die unieke aard van elke primêre kleur gefundeer is. Op pad  lê daar egter nog baie fyner waarnemings voor ten opsigte van kleurverhoudinge in gehaltewaarde .

D “The Individuality of Colour” Contributions to a Methodical Schooling in Experience of Colour,   Elisabeth Koch &  Gerard Wagner. Rudolf Steiner Press, London.    ISBN 0 85440 365-5

“Plaasdam op die Waterberg-plato”(Vaalwater, Limpopo Provinsie)

(40 cm x 40 cm  -  Akriel op Doek)

Die sterk kleurperspektief as gevolg van die rooi is goed gebalanseer

met die intenser kleur in die weerkaatste lugruim op die watervlak.

Kwetterwerf (BLOG):  http://voetpadmetkleur.wordpress.com

Webwerf:  www.louw.co.za


Die KLEURE-Drieling

Dit is die skitterende liggewendheid wat van GEEL in die vorige aflewering die bloedbroer van WIT maak. Die vraag is: “Wat verwag jy van die ander twee broers van hierdie ‘drieling’, naamlik die res van die drie primêre kleure – GEEL, BLOU en ROOI?
As iets van die stralende aard van GEEL in die vorige oefening jou binnekant geroer het, is ‘fantasie’ besig om te ontwaak. Dan is dit tyd dat jy met die ander twee van die drieling met dieselfde ontvanklike gemoed kennis maak.

Net kortliks – my ervaring met hierdie tipe van oefeninge of eksperimente is dat dit eintlik materiaal vir ernstige nadenke is waarvan ‘n groot deel verskuil lê in die weer- of  herdoen van die oefeninge met ‘n opregte gesindheid van dieper delf. Dis dán wanneer fantasie deure begin open soos: Hoe sal die ander skakerings van geel (medium- en/of diepgeel) in soortgelyke toetse reageer? En wat van die hele spektrum van geel in die velde van die Suid-Afrikaanse winterlandskap – of selfs die malse geel-groen skakerings van die eerste lentegroei? Dan ook sommer die groet van geel in die eerste oggendlig en die taan deur oranje na rooi by die nagedagtenisse van die dag? Al hierdie en soortegelyke goeters maak waarneming ‘wakker’ en kleure gaandeweg die dialek van die hart – terselfdertyd die dialek wat die kunsliefhebber verryk!

Om agter die kap van die BLOU byl te kom, gebruik ons dié keer die koue pruisieseblou (Prussian Blue).

BLOU in WIT

Kom ons probeer eers ‘n blou “O” (Fig. 4) en ‘n blou “C” (Fig. 5) op ‘n wit agtergrond – net om ‘n aanduiding te kry van hoe dié twee vorms (die ‘O’ as synde ‘toe’ en die ‘C’ as ‘oop’) teenoor wit reageer en of daar dalk tekens van ‘n verskil in gevoelswaarde te bespeur is – iets anders as by geel.

In albei gevalle ervaar ek die ‘blou’ behoudend in sigself gekeer en ewe afsydig en koud teenoor die ‘wit’. Of sou dit dalk iets te maak hê met die harde, as ‘t ware berekende etslyn tussen die twee kleure – hetsy sogenaamd ‘binne’ of ‘buite’? Of kan ‘n mens tog in die ‘opening’ van die C (Fig. 5) iets van ‘n soort erkenning ten opsigte van wit bespeur?  Hierdie vergelyking het één voordeel: Dit dwing jou om minstens Fige. 1 en 2 (met geel) ook enduit met BLOU te herhaal (soos in Fige. 6 en 7).

Dit lê voor die hand dat hierdie koue skadukleur, (Fig. 6), vergeleke met die vrolike liggewendheid van GEEL, ‘n andersoortige verhouding tot WIT het. Teenoor die stralende lig en warmte van GEEL, voel ‘n mens by BLOU ‘n terughoudende koudheid aan ten opsigte van WIT. Vergelykenderwys is daar ten opsigte van BLOU dus teenstellende kragte aan’t werk vergeleke met GEEL, soos :

GEEL………………………… BLOU

Helder en vrolik.          Donker en swaarmoedig

Tuis in WIT                  Sku teenoor WIT

Stralend                       Teruggetrokke

Uitasem                       Inasem

Tog tree ‘n subtiele gevoelswaarde ten opsigte van WIT in sodra die intensiteit van die blou aan die boonste donkerste rand verdiep word (Fig 7). Maar anders as by GEEL, is BLOU steeds stram om uitwaarts in WIT te  “VERVLOEI“

  • Ná behoorlike wik en weeg, weerspieël (Fig.8) weliswaar iets vergelykbaar met inaseming en selfs asem inhou! Só gesien, is BLOU blykbaar tog gewillig om WIT as ‘t ware ‘in te nooi’op te neem en sigself ter wille van goeie balans, van binne af na die buiterand te konsentreer of verdiep. By nadenke oor hierdie neiging om “in te nooi”, kan blou selfs ‘n gevoel van afwagting of tuiskoms skep.
  • ‘n Mens kan dit ook anders stel: In terme van gevoelswaarde het dié kleur die vermoë om TE WIL OMHELS – amper asof jy jou moet teësit om nie op dié kleur ‘verlief’ te raak nie!
  • In die natuur is die horisontale ‘terugtrek-aksie’ van ligter wordende BLOU sinoniem met groter wordende afstand soos in die geval van veraf berge vergeleke met donkerder BLOU in die geval van nader berge.
  • Die vertikale ‘terugtrek-aksie’ van lig- na donker wordende BLOU soos vanaf die horison hoër op in die hemelruim veral op ‘n helder wintersdag waargeneem kan word, neig weer om die binnemens as deel van die  kosmos te verwelkom.
  • By uitstek pas hierdie unieke terugtrek-eienskap van BLOU die skep van kleurperspektief in veral ‘n landskapskildery soos ‘n handskoen, pleks van die meer ‘geforseerde’ lineêre perspektief op die plat oppervlak van die skilderdoek!
  • Meegaande “Jakarandalaan” (hieronder) is ‘n goeie voorbeeld van voorgenoemde. Let op hoe die kleurperspektief (bome teen lug) die effek van die lineêre perspektief in die voorgrond oorskadu en die aandag telkens op die bloeisels en die diepte daaragter vestig.


An interesting and exciting combination of colour- and linear perspective.

“Jakaranda Avenue” –  In Cullinan, the diamond city of South Africa and

only 40 minutes by road north-east op Pretoria.

Kwetterwerf (BLOG):  http://voetpadmetkleur.wordpress.com

Webwerf:  www.louw.co.za

Bou eie kleurefees-databank.

Meegaande illustrasies aan die hand van “The Individuality of Colour“ is nie net voorbeelde nie. Hoogstens is dit die begin van elementêre aanduidings hoe om die aard van kleur by herhaling as ‘t ware nuut te ervaar tot dit deel van jou binnemens word. Dít is trouens die toegemete deel van die skilderberoep. Boonop is dit ook pret!

Ná jare se ervaring en duisende kleuroefeninge beklemtoon Koch en Wagner die volgende:

  • Colour experience can only be cultivated through practice. These exercises need to be done, and not only done, but redone – relived over and over again. Then they can awaken a new creative fantasy.
  • In approaching colour we want to make our conciousness as empty as possible. However often we repeat an exercise, this is the first step. Only so can we achieve a pure perception of the colour, an inner experience which may be tested.
  • The danger that once made experience becomes a fixation is great. We must keep our judgement so mobile that we are ready to correct it at any moment as our insight deepens.
  • If we have reached this inner questioning, we shall notice that the exercises becomes more interesting the more we do it and that it may become more difficult the better we get to know it. Colour Exercises are soul training.
  • We notice as we discover the creative life of colour that our own creative abilities grow, and that a secret relationship exists between the element of colour and our own soul. We become aware that, as we relinquish our personal self, we gain the reality of our real being.
  • Everything is new when we do the exercise in full awareness.

Vertrekpunt met hierdie eksperimente is keer op keer ʼn ontvanklike gemoed sonder enige vooropgestelde idees. Die belangrikste is die opdoen van ervaring en die bewustelike ordening daarvan sodat dit die draer kan word waardeur die objektiewe en subjektiewe wetmatigheid van ‘n kleur na vore kan kom.

GEEL -IN -WIT

Vir Figure 1 tot 3 het ek Winson & Newton Artists’ Acrylic (W&N) Cadmium Yellow Light op my normaal voorbereide doek gebruik – dus liggeel op ʼn wit agtergrond.

Die mikpunt is om die ‘verset’ of ‘weerstand’ of “samehorigheid” tussen die twee kleure, nie te ‘bepaal’ nie, maar eerstens met elke kwashaal ‘aan te voel’ en op grond van jou eie gevoelswaarde die reaksie van die GEEL teenoor WIT te evalueer. Let ook daarop dat in hierdie oefeninge WIT sigself duidelik as ʼn KLEUR manifesteer. (ʼn Mens kan dié feit toets deur eenvoudig dieselfde oefening op ʼn gekleurde agtergrond te herhaal.)

Oefeninge soos hierdie verg intense betrokkenheid. Daarom verkies ek om verdunde Akriel-pigment te gebruik. Begin met 5 ml skoon water in ‘n glas. Met ‘n plat en sagte kwas 10mm breed en van kunsvesel, los vir ‘n begin nagenoeg die grootte van sowat ‘n mespunt             # ‘Acrylic Gel Medium’ in die water op. Los dan ‘n bietjie  kleurpigment uit die buis in baie klein hoeveelhede (sowat die grootte van twee vuurhoutjiekoppe op ‘n keer) in die voorgenoemde mengsel op en toets elke keer die ‘sterkte’ van die kleur – hetsy op afvalstukkies voorbereide doek of goeie waterverfpapier. Die kleur word dan laag-na-laag aangewend met genoeg tyd tussen elke laag om behoorlik droog te word. Hierdie manier van doen help om intense betrokkenheid deur die hele proses te handhaaf. Ek doen ook nie meer as een so ʼn eksperiment per dag nie wat tyd laat dat ‘ervaring’ deel van my binnemens word.

Blaas elke laag pigment behoorlik droog met ‘n haardroër  voordat ‘n volgende laag aangewend word.

# Die ‘Gel Medium’ verseker dat die verskillende lae pigment met mekaar bind.

Fig.1 Fig.2

Fig. 1:

Gebruik tyd met die haardroër om die lae verf by medium spoed droog te blaas – en nie te naby aan die oppervlakte nie sodat die vloeibare kleurmengsel onbeheersd uitsprei. Medium hitte werk die beste en gebruik elke oomblik om te probeer vasstel wat die “reaksie” van die geel teenoor die wit is. Met ‘blaas-kyk-blaas’ kom jy gou agter daars kragte aan’t werk – iets soos ‘n inherente senuagtigheid in die soliede geel (i) wat almelewe dreig om na die wit toe te wil oorkook.

Fig. 2:

Wil geel so-by-so oorloop in wit, laat ek hom eenkant toe in die wit insmelt en neem kennis van die waarneming, naamlik die gevoel dat GEEL heel gelukkig is om sigself uit te sprei – al asof dit die eie inherente bron van lig met die ruimtelikheid van die wit wil deel, (ii). Dit wil dus voorkom of dít ʼn tweede eiesoortige eienskap van geel is.

Maar in die proses om ʼn meer harmonieuse saamwees ten opsigte van WIT te verwesentlik, verloor die oorblywende geel aan impak of energie (iii). Om hierdie derde belangrike eienskap te balanseer – amper soos ʼn dam wat leegloop nadat die wal gebreek het – vra die oorblywende geel om versterking of hulp. Probeer nog ‘n laag of twee pigment of selfs ‘medium geel’ by Fig. 2 byvoeg en uiteindelik selfs ʼn titseltjie ORANJE aan die ‘vol’ kant van die dam byvoeg (iv). Dit help beslis om die balans of ‘kragte’ van die geel in so ‘n situasie aan te vul en die geheelbeeld opnuut te balanseer.

Fig.3 – Kontraksie en ontplooiing

Fig. 3: Hierdie samestelling vanaf ‘n wyer ligte area (buite) na ‘n kleiner of intenser donker (binnekant) is gelyktydig – laag vir laag en sterkte vir sterkte – saam met die vorige twee figure opgebou.

‘n Uitaseming van ligter tinte ( na buite) en ‘n Inaseming van intenser skakerings van GEEL (na binne) is die resultaat (v). Met min pigment en enkele kwashale is ʼn dinamiese proses van kontraksie en ontplooiing verbeeld waarin die totale beweeglikheid en gelyktydige skittering van geel – DIE AARD VAN DIE KLEURuitdrukking vind. Wat het dus werklik gebeur?

Ons het probeer om die kleur se inherente kragte sigbaar en ervaarbaar, in balans te bring en orde te skep. En as bonus het  ʼn buitelike ruimte ontstaan – stralend!, uitwaarts!, DÍS GEEL!

Kwetterwerf:  http://voetpadmetkleur.wordpress.com

Webwerf:  www.louw.co.za

LW: Laat weet asseblief by wyse van ‘kommentaar’ of u reggekom het met die eksperiment en deel iets van jou ervaring met jou medelesers.

Kleur in Praktyk

In die skilder se strewe om werklik vry te funksioneer ten opsigte van waarneming    en die toepassing van kleur, help slim stories min. Dit verg volgehoue harde werk om die ABC van kleur onder die knie te kry.

Voorbereiding:

My gids in dié studie is Elisabeth Koch en Gerhard Wagner se ‘leerplan’ soos vervat in die hul publikasie: “The Individuality Of Colour” A.  Hul benadering is konkreet, doelgerig en oor baie jare in die praktyk bevestig.

Om kleur objektief te kan ervaar, vereis volgens Koch en Wagner dat ‘n mens kleur as ‘t ware losstaande of afsonderlik sien van die voorwerp waarvan dit deel is. Dis nie te moeilik nie. Wat tog moeilik is, is om ‘n kleur waar te neem, te ervaar, sonder vooropgesette idees, sonder eie dink, selfs eie voor- en afkeure. Vermy enige ander vorm van vaagheid of fladderende gemoed. Vervang voorgenoemde met doelgerigte bewustheid en verwagting na ‘n antwoord op die vraag: “Hoe kan ek hierdie spesifieke kleur as verskynsel stapsgewys my eie maak deur toe te laat dat die aard daarvan deel van my gevoelslewe word?”

Net ‘n proses van eie regstellende herhalings van baie kleureksperimente bring insig en kennis en lyf jou in as draer van die natuur se eie kleure-ABC. Hierdie metode van waarneming is inderdaad ‘n sielsaktiwiteit en bewysbaar in soortgelyke terme via die gevoelslewe van die waarnemer.

Rudolf Steiner skets die grens ten opsigte van objektiewe kleurwaarneming nog duideliker en meer gefokus aan die hand van drie lesings in Dornach, Switzerland, vanaf 6 Mei tot  8 Mei 1921. (Opgeneem in die bundel, “Colour” B).

“Om ‘n objektiewe greep op die wese en aard van kleur te kry, moet ‘n mens toesien dat jy binne die wêreld of die sfeer van kleur as sodanig bly. Probeer om nie antwoorde buite dié grense te soek nie. Slegs dan kan ‘n mens hoop om tot ‘n begrip van die aard van kleur deur te dring,” sê hy in hierdie lesingreeks en verduidelik ook hoe dit haalbaar is:

“Dompel jouself totaal in alles wat kleur jou bied uit die ryke verskeidenheid in die wêreld rondom jou. Aangesien kleur ‘n saak van gevoel is, moet jy hou hele gevoelslewe aktiveer as jy hoop om tot die wese van kleur deur te dring. Bevraagteken jou gevoel oor wat in die kleur rondom jou lewe. Die beste is om aan te hou eksperimenteer met ‘n kleur om ontslae te raak van komplekse besonderhede wat net insig vertroebel en die wesentlike verberg. Daarom dat herhaling van die eksperimente so belangrik is soos byvoorbeeld met warm of koue skakerings van dieselfde basiese kleur.

“If we wish to discover for ourselves what an important instrument our phantasy is, we must be willing to make experiments in the realm of phantasy,” according to Steiner.

Die eerste treë op die ‘voetpad-met-kleur’ is dus ‘n noodsaaklike soeke na die wese en karakter van die individuele kleure gevolg deur pogings om dit te gebruik op maniere volgens elke kleur se wil of aard.

Wenke

Die volgende wenke kan handig te pas kom by die uitvoer van die oefeninge:

  • As ʼn beginsel – werk op ʼn behoorlike skildersesel. Juis wanneer ʼn mens staan en werk, ervaar jy jouself volledig in ewewig, terwyl dit boonop maklik is om terug te staan wat help om die resultaat meer objektief te ervaar. As jy moet sit, is dit steeds die gemaklikste om op ʼn regopstaande doek of bord te werk.
  • Genoemde skrywers beveel vir die oefeninge aan om met waterverf op behoorlik gespande waterverfpapier te werk. Die gespande papier moet behoorlik droog wees – dit bevorder meer verfynde waarneming vergeleke met die sogenaamde nat-in-nat manier van kleuraanwending.
  • Gebruik goeie gehalte deursigtige waterverf soos Winson & Newton. Ondeursigtige kleure soos ondeursigtige wit en akrielmedium word nie aanbeveel nie. #
  • Beperk kleurkeuses tot ʼn koue geel, warm geel; warm rooi, koue rooi; pers, violet; warm blou, koue blou; swart. Van hierdie kleure kan enige ander skakering en toonwaarde gemaak word, hetsy deur fisiese vermenging (mixture) of laag-op-laag heroplegging (superimposition).
  • Kwaste wat die beste werk, is langsteel- en plat kwaste van sabelhaar of selfs sagte kunsvesel. Kwaste van steek- of varkhaar is nie gebruikersvriendelik vir dié doel nie.
  • Gebruik toetspapier om die kleur te toets ten opsigte van sterkte (lig- of donkerwaardes) en presiese kleurgehalte (warmer- of kouer toonwaardes). Uiteraard is dit belangrik om dieselfde papier vir die toetse te gebruik as dié waarop die eksperimente uitgevoer gaan word.
  • En dís nie ʼn wolhaarstorie nie: Voordat jy die voorbereide kleur aanwend, kyk dit by wyse van spreek “in die oë” – soos wanneer jy met jou hele wese ʼn mens sou peil, met die oë en met die siel, en verenig jouself onbevange daarmee.

A “The Individuality Of Colour” Contributions to a Methodical Schooling in Experience of Colour,   Elisabeth Koch &  Gerard Wagner. Rudolf Steiner Press, London.    ISBN 0 85440 365-5

B “Colour” (Lecture 1 of 3 by Rudolf Steiner given in Dornach, May 1921)

Rudolf Steiner Press, London. 1971. ISBN 0 85440 228 4

# Contrary to ‘what the book says’ I prefer acrylic, especially Winsor & Newtons’  Artists’ Acrylic – a new acrylic range with pure brilliance and depth of colour; still quick drying but with longer open time (working time) and just about no colour shift from wet colour to dry colour. I thin it with a mixture of water and a little ‘Acrylic Gel Medium’ and paint the experiments on the same prepared canvas that I normally use.

NOTA / NOTE:

Vir die volgende aflewering is die eerste kleureksperiment aan die beurt.
For next time, we have an appointment with the first colour experiment,

Kwetterwerf: http://voetpadmetkleur.wordpress.com Webwerf:  www.louw.co.za

WAARNEMING

Waarneming is nie nét kyk of nét sien nie; ook nie nét luister of nét hoor nie. Dis ʼn tweespoorpad wat in die volgende woordprent dalk beter met die waarheid lepellê:

Kyk en Sien

kyk-en-sien soos luister-en-hoor is ‘n tweespoorpad

na  nuwe ooptes waar die hart se enkelvoetpad

vry oor vloedvlaktes van gedagtes sprei

op soek na eie nis vir wortelskiet

en mettertyd bevryding kry –

in die vlerkslag van ʼn liefdeslied

van

Luister -

Hóór

en Doen!

Waarneming is ʼn fenomeen van die lewe wat niemand kan ontken nie. Dit word belewe deur elke mens op ʼn manier eie aan sy aangebore aard en omstandighede. As enigste kind moes ek sonder die hulp van broers of susters my eie voetpad fyn uitkyk. Met ʼn goeie skeut hartseer en verlang, was dit nie altyd lekker nie. Dis egter die nalatenskap daarvan wat gehelp het om my deur die drif van probleme met kleur te kry. Nee, het die slimmes op ʼn keer gesê: “Jy’s nie kleurblind nie – net kleurswak!” Wat dít ook al mog beteken? Binnekant het dit ʼn kruitreuk soos nà ʼn geweerskoot gelaat. Genadiglik tydelik.

Kleintyd was ons plaas 30 myl (49 kilometer) van die dorp af en die enigste vervoermiddel ʼn kapkar,  ʼn paar tuigperde en ʼn stofpad. Elke keer was dit ʼn tydsame rit deur die vaal en meestal dorre landskap. Sulke ritte was dikwels vervelig en tog, soms selfs opwindend – veral binne die eerste paar dae ná ʼn goeie lentereën wanneer die veldopslag begin kleur stoot.

Tydens sulke ritte raak gesels op en jy gee jou oor aan die ritme van die draaghout se klop op die disselboom. Swym wil-wil intree tot ʼn dansende donker kol ver voor in die pad bó die horison uit die niet verskyn. Dit ritteltit heen en weer en kry later ʼn stertjie soos ʼn saad  wat wakker skrik. Nog later raak dié ‘wortel’ die grond en die truuks van lugspieëling met ʼn doringboom  kry wonder-status in jou gemoed. Dis juis by terugdink met nostalgie aan sulke perdekar-belewenisse dat die besef mettertyd posgevat het om my kwellinge oor ‘kleur’ wat my net nie in vrede wou laat nie, soos ‘perdekarritte deur die Karoo’ aan te durf: Gee dit oor om ‘deel van ʼn proses’ te word. En daar is net één manier – hou aan kyk en kyk totdat jy sien’ en hou aan luister en luister totdat jy ‘hoor’ – en seël dít dan met ‘doen’.

En soms – maak ek sommer net my oë toe en soek in my eie binnekantse donkerte driedorings se drie-drie grys vingertakkies in blom, keer op keer ontplooiend as deel van ʼn ander kleuretafereel. Plaat-op-plaat sagte pienk gespek met appelkooskleur, spatsels blou, pers en die brand-geel van sewe-dae-opslag ná tydige reën –  ʼn Karookind se kits Namakwaland!  En so word dié proses mettertyd deel van ʼn genadegawe van bevryding.  Maak nie saak in watter stadium van ʼn mens se lewe en in watter graad dit jou tref nie. Dis ʼn wonderlike bron van vrede! Middel 1970’s kry die skilderdrang finaal die oorhand en begin kombineer ek my eie kleurwaarneming met die unieke Suid- en Suider-Afrikaanse  landskap.

In Deel IV van “A New Impulse in Art” verwys Rosenkrantz na die oorsprong van die verskillende kuns genre as uitvloeisels van die fasette van die sewevoudige menslike natuur aan die hand van Rudolf Steiner se insig ten opsigte van selfkennis as die bron van inspirasie in die onderskeie kunsvorme (bl. 125 tot 131).

“Only in painting – the art born from the emotional elements in us – the body of conciousness, namely where thinking, feeling and willing, reveals itself, affect our creating immediately.

“The direct expression of sensation, of emotion, is in sculpture the signal of its degeneracy. However, it is in the combining of colours in their different intimacies that this part of our body  finds itself at home in a truthful creative outlet for the forces which go to build up our life of feeling. It must be said again, that the true home of the painter is in colour. And it follows that the painter who is thus in sympathy  through his emotional experiences with the colours of nature will reflect in a landscape the very emotions which we all experience, emotions of joy or sorrow, reverence, mystery, yearning and so on. We can therefore understand why a painter can evoke in us a feeling of mystery and yearning in his picture, for he paints from out of an inner relationship of his feelings to colour. He paints from a relationship to that very world of colour of which nature herself makes use when she speaks to us in a landscape from out of the depth of her being.”

“Tweespoorpad”Barkly-West, Northern Cape – 1996

(The last painting in a series done with commercial enamel paint.)

Kwetterwerf: http://voetpadmetkleur.wordpress.com Webwerf:  www.louw.co.za

Kleur is die kunsskilder se ‘ABC’.

In selfstudie oor jare het die werke van verskeie kunstenaars, skrywers en denkers belangrike rigtingwysers geword. Kleur is ʼn integrale deel van lewe. My voetpad-met-kleur is dus noodgedwonge, naamlik om die aard van kleur onbevange vir my eie binnekant te eien. Ek erken graag elkeen se bydrae waaruit ek kon put in die hoop dat dit ook vir ʼn ander vars brandhout vir nuwe vreugdevure mag word – hetsy skilder of kunsliefhebber.

Skilder het op die ouderdom van 13 (en middel std.7) in my binneste begin kriewel toe ons gesin verhuis het vanuit die somerreënval se valerige Hopetown-Strydenburg-Prieska-Karoo na die winterreëngebied se wuiwende graanlande seekant van die Langeberge by Riversdal. Die berge dáár was honderdvoudig groter as my bekende klipkoppies. Die deinende welkomwuif van golwe groen- en halfryp graan bult op bult, was hartseer mooier as die wind se golfies op ons Karoose plaasdam. Dié wêreld het gevra vir prente. Jan Volschenk se landskappe van die Suid-Kaap – spesifiek Riversdal omgewing – het dit bevestig en ek het spaargeldjies afgeknyp vir enkele buisies olieverf en drie kwaste wat oor die pos vanaf Schweickerdt in Pretoria bestel is.

As eerstejaarstudent op Stellenbosch wys ʼn klasmaat een van my pogings aan prof. Fransie Malherbe, ʼn kenner van sy tyd. Dié sê toe: “Ja, hier is tekens van talent.” Nogal gaaf, het ek gedink. Maar toe bars my ballon in ʼn praktiese sielkundeklas toe dit duidelik word dat my kleurwaarneming nie met die norm klop nie – prontuit, dis as ‘swak’ en ‘snaaks’ afgemaak. En net daar is die jong skilderdrif ontspoor.

Ná baie wik en weeg en selfondersoek oor jare was dit uiteindelik kuiertjies by praktiserende skilders vir meestal net ‘kyk’ asook inligtingsbesoeke aan enkele privaat ‘kunsklasse’ wat die bordjies begin verhang het. Mettertyd het ʼn nuwe bewuswording ontstaan, gegrond op invalshoeke soos “ wat daarvan?” of “ten spyte van!” En geleidelik kon ek aan die hand van geloofsgenade en selfstudie ʼn nuwe voetpad aandurf wat oor jare baie “waaroms?” in “daaroms!” omskep het. Uiteindelik is opnuut begin met klein formaat doeke en ʼn beperkte reeks kommersiële emaljeverf in klein blikkies – hoofsaaklik net die primêre kleurereeks. In Oktober 1992 hou ek ʼn solo-uitstalling aan vriende se  privaat woonhuis in Pretoria en verkoop op enkeles ná al die werke die openingsaand. Van die opmerkings in die besoekersboek sonder 34 % kleurgebruik uit as anders’, ‘uniek’ en selfs ‘vars’.

As skilder kan ek my dus nie op enige formele opleiding beroep nie. Net verskeie mense se dink en werk was rigtingwysers langs dié voetpad. Lesers is welkom om saam te stap – vir wat dit mag oplewer.

Van die eerste ‘ruskampe’ op dié tog is “A New Impulse in Art” A deur die toonaangewende Deense kunstenaar, Arild Rosenkrantz  (1870-1967). John Fletcher sê in ʼn inleiding tot hierdie bundel versamelde werke uit die tydvak tussen die eerste- en tweede wêreldoorlog:

“Those who feel that a really living art is necessary to counteract the ever-growing materialism of modern life – which materialism has contaminated art itself – will find in these collected writings of Arild Rosenkrantz the approach through colour to a wonderful new world. This may encourage the study of Goethe’s “Theory of Colour” and Rudolf Steiner’s “New Impulse of Art”.

Rosenkrantz het op die rype ouderdom van 95 sy kwaste finaal gegroet met ʼn nalatenskap van verreikende invloed vir die toekoms van kuns in die breë, of minstens ʼn vars en oënskynlik meer kernvisie van die roeping van kuns midde-in die era van super materialisme. Hy som dit só op:

“ The edifice of civilization started where nature crowned her work with the human being. Nature builds in patient slavery by unalterable laws. She has built with one mighty aim in view; to create a vessel for the spirit – Man. Man stands as the apex of her achievement equipped with faculties which infinitely surpass those of her other children (namely the animal-, plant- and mineral kingdoms). In the human form she crowns her task and returns to endless repetition. But we press on. This progress expresses itself as culture and one branch of culture is art. Through art humanity creates forms in which the spirit finds expression. Forms made by the power of man in architecture, sculpture, painting, music and poetry are all scope for the spirit to reveal itself. Art carries messages from the spiritual world.

“Unless we take this standpoint, artists endanger the mission of art, which is to reveal the eternally True and Good through Beauty.” B

A Published by: A NEW KNOWLEDGE BOOKS, LONDON, 1967 – A Memoir by Gladys Mayer.

B “A New Impulse in Art” p. 145.

“Drakensberge,  Golden Gate”Oos-Vrystaat.

Een van die belangrike bakens op dié voetpad.

Sien Webwerf by www.louw.co.za

Kry hierdie Kwetterwerf (blog) by http://voetpadmetkleur.wordpress.com

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.