Kleur is die kunsskilder se ‘ABC’.

In selfstudie oor jare het die werke van verskeie kunstenaars, skrywers en denkers belangrike rigtingwysers geword. Kleur is ʼn integrale deel van lewe. My voetpad-met-kleur is dus noodgedwonge, naamlik om die aard van kleur onbevange vir my eie binnekant te eien. Ek erken graag elkeen se bydrae waaruit ek kon put in die hoop dat dit ook vir ʼn ander vars brandhout vir nuwe vreugdevure mag word – hetsy skilder of kunsliefhebber.

Skilder het op die ouderdom van 13 (en middel std.7) in my binneste begin kriewel toe ons gesin verhuis het vanuit die somerreënval se valerige Hopetown-Strydenburg-Prieska-Karoo na die winterreëngebied se wuiwende graanlande seekant van die Langeberge by Riversdal. Die berge dáár was honderdvoudig groter as my bekende klipkoppies. Die deinende welkomwuif van golwe groen- en halfryp graan bult op bult, was hartseer mooier as die wind se golfies op ons Karoose plaasdam. Dié wêreld het gevra vir prente. Jan Volschenk se landskappe van die Suid-Kaap – spesifiek Riversdal omgewing – het dit bevestig en ek het spaargeldjies afgeknyp vir enkele buisies olieverf en drie kwaste wat oor die pos vanaf Schweickerdt in Pretoria bestel is.

As eerstejaarstudent op Stellenbosch wys ʼn klasmaat een van my pogings aan prof. Fransie Malherbe, ʼn kenner van sy tyd. Dié sê toe: “Ja, hier is tekens van talent.” Nogal gaaf, het ek gedink. Maar toe bars my ballon in ʼn praktiese sielkundeklas toe dit duidelik word dat my kleurwaarneming nie met die norm klop nie – prontuit, dis as ‘swak’ en ‘snaaks’ afgemaak. En net daar is die jong skilderdrif ontspoor.

Ná baie wik en weeg en selfondersoek oor jare was dit uiteindelik kuiertjies by praktiserende skilders vir meestal net ‘kyk’ asook inligtingsbesoeke aan enkele privaat ‘kunsklasse’ wat die bordjies begin verhang het. Mettertyd het ʼn nuwe bewuswording ontstaan, gegrond op invalshoeke soos “ wat daarvan?” of “ten spyte van!” En geleidelik kon ek aan die hand van geloofsgenade en selfstudie ʼn nuwe voetpad aandurf wat oor jare baie “waaroms?” in “daaroms!” omskep het. Uiteindelik is opnuut begin met klein formaat doeke en ʼn beperkte reeks kommersiële emaljeverf in klein blikkies – hoofsaaklik net die primêre kleurereeks. In Oktober 1992 hou ek ʼn solo-uitstalling aan vriende se  privaat woonhuis in Pretoria en verkoop op enkeles ná al die werke die openingsaand. Van die opmerkings in die besoekersboek sonder 34 % kleurgebruik uit as anders’, ‘uniek’ en selfs ‘vars’.

As skilder kan ek my dus nie op enige formele opleiding beroep nie. Net verskeie mense se dink en werk was rigtingwysers langs dié voetpad. Lesers is welkom om saam te stap – vir wat dit mag oplewer.

Van die eerste ‘ruskampe’ op dié tog is “A New Impulse in Art” A deur die toonaangewende Deense kunstenaar, Arild Rosenkrantz  (1870-1967). John Fletcher sê in ʼn inleiding tot hierdie bundel versamelde werke uit die tydvak tussen die eerste- en tweede wêreldoorlog:

“Those who feel that a really living art is necessary to counteract the ever-growing materialism of modern life – which materialism has contaminated art itself – will find in these collected writings of Arild Rosenkrantz the approach through colour to a wonderful new world. This may encourage the study of Goethe’s “Theory of Colour” and Rudolf Steiner’s “New Impulse of Art”.

Rosenkrantz het op die rype ouderdom van 95 sy kwaste finaal gegroet met ʼn nalatenskap van verreikende invloed vir die toekoms van kuns in die breë, of minstens ʼn vars en oënskynlik meer kernvisie van die roeping van kuns midde-in die era van super materialisme. Hy som dit só op:

“ The edifice of civilization started where nature crowned her work with the human being. Nature builds in patient slavery by unalterable laws. She has built with one mighty aim in view; to create a vessel for the spirit – Man. Man stands as the apex of her achievement equipped with faculties which infinitely surpass those of her other children (namely the animal-, plant- and mineral kingdoms). In the human form she crowns her task and returns to endless repetition. But we press on. This progress expresses itself as culture and one branch of culture is art. Through art humanity creates forms in which the spirit finds expression. Forms made by the power of man in architecture, sculpture, painting, music and poetry are all scope for the spirit to reveal itself. Art carries messages from the spiritual world.

“Unless we take this standpoint, artists endanger the mission of art, which is to reveal the eternally True and Good through Beauty.” B

A Published by: A NEW KNOWLEDGE BOOKS, LONDON, 1967 – A Memoir by Gladys Mayer.

B “A New Impulse in Art” p. 145.

“Drakensberge,  Golden Gate”Oos-Vrystaat.

Een van die belangrike bakens op dié voetpad.

Sien Webwerf by www.louw.co.za

Kry hierdie Kwetterwerf (blog) by http://voetpadmetkleur.wordpress.com