Kleur in Praktyk

In die skilder se strewe om werklik vry te funksioneer ten opsigte van waarneming    en die toepassing van kleur, help slim stories min. Dit verg volgehoue harde werk om die ABC van kleur onder die knie te kry.

Voorbereiding:

My gids in dié studie is Elisabeth Koch en Gerhard Wagner se ‘leerplan’ soos vervat in die hul publikasie: “The Individuality Of Colour” A.  Hul benadering is konkreet, doelgerig en oor baie jare in die praktyk bevestig.

Om kleur objektief te kan ervaar, vereis volgens Koch en Wagner dat ‘n mens kleur as ‘t ware losstaande of afsonderlik sien van die voorwerp waarvan dit deel is. Dis nie te moeilik nie. Wat tog moeilik is, is om ‘n kleur waar te neem, te ervaar, sonder vooropgesette idees, sonder eie dink, selfs eie voor- en afkeure. Vermy enige ander vorm van vaagheid of fladderende gemoed. Vervang voorgenoemde met doelgerigte bewustheid en verwagting na ‘n antwoord op die vraag: “Hoe kan ek hierdie spesifieke kleur as verskynsel stapsgewys my eie maak deur toe te laat dat die aard daarvan deel van my gevoelslewe word?”

Net ‘n proses van eie regstellende herhalings van baie kleureksperimente bring insig en kennis en lyf jou in as draer van die natuur se eie kleure-ABC. Hierdie metode van waarneming is inderdaad ‘n sielsaktiwiteit en bewysbaar in soortgelyke terme via die gevoelslewe van die waarnemer.

Rudolf Steiner skets die grens ten opsigte van objektiewe kleurwaarneming nog duideliker en meer gefokus aan die hand van drie lesings in Dornach, Switzerland, vanaf 6 Mei tot  8 Mei 1921. (Opgeneem in die bundel, “Colour” B).

“Om ‘n objektiewe greep op die wese en aard van kleur te kry, moet ‘n mens toesien dat jy binne die wêreld of die sfeer van kleur as sodanig bly. Probeer om nie antwoorde buite dié grense te soek nie. Slegs dan kan ‘n mens hoop om tot ‘n begrip van die aard van kleur deur te dring,” sê hy in hierdie lesingreeks en verduidelik ook hoe dit haalbaar is:

“Dompel jouself totaal in alles wat kleur jou bied uit die ryke verskeidenheid in die wêreld rondom jou. Aangesien kleur ‘n saak van gevoel is, moet jy hou hele gevoelslewe aktiveer as jy hoop om tot die wese van kleur deur te dring. Bevraagteken jou gevoel oor wat in die kleur rondom jou lewe. Die beste is om aan te hou eksperimenteer met ‘n kleur om ontslae te raak van komplekse besonderhede wat net insig vertroebel en die wesentlike verberg. Daarom dat herhaling van die eksperimente so belangrik is soos byvoorbeeld met warm of koue skakerings van dieselfde basiese kleur.

“If we wish to discover for ourselves what an important instrument our phantasy is, we must be willing to make experiments in the realm of phantasy,” according to Steiner.

Die eerste treë op die ‘voetpad-met-kleur’ is dus ‘n noodsaaklike soeke na die wese en karakter van die individuele kleure gevolg deur pogings om dit te gebruik op maniere volgens elke kleur se wil of aard.

Wenke

Die volgende wenke kan handig te pas kom by die uitvoer van die oefeninge:

  • As ʼn beginsel – werk op ʼn behoorlike skildersesel. Juis wanneer ʼn mens staan en werk, ervaar jy jouself volledig in ewewig, terwyl dit boonop maklik is om terug te staan wat help om die resultaat meer objektief te ervaar. As jy moet sit, is dit steeds die gemaklikste om op ʼn regopstaande doek of bord te werk.
  • Genoemde skrywers beveel vir die oefeninge aan om met waterverf op behoorlik gespande waterverfpapier te werk. Die gespande papier moet behoorlik droog wees – dit bevorder meer verfynde waarneming vergeleke met die sogenaamde nat-in-nat manier van kleuraanwending.
  • Gebruik goeie gehalte deursigtige waterverf soos Winson & Newton. Ondeursigtige kleure soos ondeursigtige wit en akrielmedium word nie aanbeveel nie. #
  • Beperk kleurkeuses tot ʼn koue geel, warm geel; warm rooi, koue rooi; pers, violet; warm blou, koue blou; swart. Van hierdie kleure kan enige ander skakering en toonwaarde gemaak word, hetsy deur fisiese vermenging (mixture) of laag-op-laag heroplegging (superimposition).
  • Kwaste wat die beste werk, is langsteel- en plat kwaste van sabelhaar of selfs sagte kunsvesel. Kwaste van steek- of varkhaar is nie gebruikersvriendelik vir dié doel nie.
  • Gebruik toetspapier om die kleur te toets ten opsigte van sterkte (lig- of donkerwaardes) en presiese kleurgehalte (warmer- of kouer toonwaardes). Uiteraard is dit belangrik om dieselfde papier vir die toetse te gebruik as dié waarop die eksperimente uitgevoer gaan word.
  • En dís nie ʼn wolhaarstorie nie: Voordat jy die voorbereide kleur aanwend, kyk dit by wyse van spreek “in die oë” – soos wanneer jy met jou hele wese ʼn mens sou peil, met die oë en met die siel, en verenig jouself onbevange daarmee.

A “The Individuality Of Colour” Contributions to a Methodical Schooling in Experience of Colour,   Elisabeth Koch &  Gerard Wagner. Rudolf Steiner Press, London.    ISBN 0 85440 365-5

B “Colour” (Lecture 1 of 3 by Rudolf Steiner given in Dornach, May 1921)

Rudolf Steiner Press, London. 1971. ISBN 0 85440 228 4

# Contrary to ‘what the book says’ I prefer acrylic, especially Winsor & Newtons’  Artists’ Acrylic – a new acrylic range with pure brilliance and depth of colour; still quick drying but with longer open time (working time) and just about no colour shift from wet colour to dry colour. I thin it with a mixture of water and a little ‘Acrylic Gel Medium’ and paint the experiments on the same prepared canvas that I normally use.

NOTA / NOTE:

Vir die volgende aflewering is die eerste kleureksperiment aan die beurt.
For next time, we have an appointment with the first colour experiment,

Kwetterwerf: http://voetpadmetkleur.wordpress.com Webwerf:  www.louw.co.za