Meegaande illustrasies aan die hand van “The Individuality of Colour“ is nie net voorbeelde nie. Hoogstens is dit die begin van elementêre aanduidings hoe om die aard van kleur by herhaling as ‘t ware nuut te ervaar tot dit deel van jou binnemens word. Dít is trouens die toegemete deel van die skilderberoep. Boonop is dit ook pret!
Ná jare se ervaring en duisende kleuroefeninge beklemtoon Koch en Wagner die volgende:
- Colour experience can only be cultivated through practice. These exercises need to be done, and not only done, but redone – relived over and over again. Then they can awaken a new creative fantasy.
- In approaching colour we want to make our conciousness as empty as possible. However often we repeat an exercise, this is the first step. Only so can we achieve a pure perception of the colour, an inner experience which may be tested.
- The danger that once made experience becomes a fixation is great. We must keep our judgement so mobile that we are ready to correct it at any moment as our insight deepens.
- If we have reached this inner questioning, we shall notice that the exercises becomes more interesting the more we do it and that it may become more difficult the better we get to know it. Colour Exercises are soul training.
- We notice as we discover the creative life of colour that our own creative abilities grow, and that a secret relationship exists between the element of colour and our own soul. We become aware that, as we relinquish our personal self, we gain the reality of our real being.
- Everything is new when we do the exercise in full awareness.
Vertrekpunt met hierdie eksperimente is keer op keer ʼn ontvanklike gemoed sonder enige vooropgestelde idees. Die belangrikste is die opdoen van ervaring en die bewustelike ordening daarvan sodat dit die draer kan word waardeur die objektiewe en subjektiewe wetmatigheid van ‘n kleur na vore kan kom.
GEEL -IN -WIT
Vir Figure 1 tot 3 het ek Winson & Newton Artists’ Acrylic (W&N) Cadmium Yellow Light op my normaal voorbereide doek gebruik – dus liggeel op ʼn wit agtergrond.
Die mikpunt is om die ‘verset’ of ‘weerstand’ of “samehorigheid” tussen die twee kleure, nie te ‘bepaal’ nie, maar eerstens met elke kwashaal ‘aan te voel’ en op grond van jou eie gevoelswaarde die reaksie van die GEEL teenoor WIT te evalueer. Let ook daarop dat in hierdie oefeninge WIT sigself duidelik as ʼn KLEUR manifesteer. (ʼn Mens kan dié feit toets deur eenvoudig dieselfde oefening op ʼn gekleurde agtergrond te herhaal.)
Oefeninge soos hierdie verg intense betrokkenheid. Daarom verkies ek om verdunde Akriel-pigment te gebruik. Begin met 5 ml skoon water in ‘n glas. Met ‘n plat en sagte kwas 10mm breed en van kunsvesel, los vir ‘n begin nagenoeg die grootte van sowat ‘n mespunt # ‘Acrylic Gel Medium’ in die water op. Los dan ‘n bietjie kleurpigment uit die buis in baie klein hoeveelhede (sowat die grootte van twee vuurhoutjiekoppe op ‘n keer) in die voorgenoemde mengsel op en toets elke keer die ‘sterkte’ van die kleur – hetsy op afvalstukkies voorbereide doek of goeie waterverfpapier. Die kleur word dan laag-na-laag aangewend met genoeg tyd tussen elke laag om behoorlik droog te word. Hierdie manier van doen help om intense betrokkenheid deur die hele proses te handhaaf. Ek doen ook nie meer as een so ʼn eksperiment per dag nie wat tyd laat dat ‘ervaring’ deel van my binnemens word.
Blaas elke laag pigment behoorlik droog met ‘n haardroër voordat ‘n volgende laag aangewend word.
# Die ‘Gel Medium’ verseker dat die verskillende lae pigment met mekaar bind.
![]() |
![]() |
| Fig.1 | Fig.2 |
Fig. 1:
Gebruik tyd met die haardroër om die lae verf by medium spoed droog te blaas – en nie te naby aan die oppervlakte nie sodat die vloeibare kleurmengsel onbeheersd uitsprei. Medium hitte werk die beste en gebruik elke oomblik om te probeer vasstel wat die “reaksie” van die geel teenoor die wit is. Met ‘blaas-kyk-blaas’ kom jy gou agter daars kragte aan’t werk – iets soos ‘n inherente senuagtigheid in die soliede geel (i) wat almelewe dreig om na die wit toe te wil oorkook.
Fig. 2:
Wil geel so-by-so oorloop in wit, laat ek hom eenkant toe in die wit insmelt en neem kennis van die waarneming, naamlik die gevoel dat GEEL heel gelukkig is om sigself uit te sprei – al asof dit die eie inherente bron van lig met die ruimtelikheid van die wit wil deel, (ii). Dit wil dus voorkom of dít ʼn tweede eiesoortige eienskap van geel is.
Maar in die proses om ʼn meer harmonieuse saamwees ten opsigte van WIT te verwesentlik, verloor die oorblywende geel aan impak of energie (iii). Om hierdie derde belangrike eienskap te balanseer – amper soos ʼn dam wat leegloop nadat die wal gebreek het – vra die oorblywende geel om versterking of hulp. Probeer nog ‘n laag of twee pigment of selfs ‘medium geel’ by Fig. 2 byvoeg en uiteindelik selfs ʼn titseltjie ORANJE aan die ‘vol’ kant van die dam byvoeg (iv). Dit help beslis om die balans of ‘kragte’ van die geel in so ‘n situasie aan te vul en die geheelbeeld opnuut te balanseer.
![]() |
| Fig.3 – Kontraksie en ontplooiing |
Fig. 3: Hierdie samestelling vanaf ‘n wyer ligte area (buite) na ‘n kleiner of intenser donker (binnekant) is gelyktydig – laag vir laag en sterkte vir sterkte – saam met die vorige twee figure opgebou.
‘n Uitaseming van ligter tinte ( na buite) en ‘n Inaseming van intenser skakerings van GEEL (na binne) is die resultaat (v). Met min pigment en enkele kwashale is ʼn dinamiese proses van kontraksie en ontplooiing verbeeld waarin die totale beweeglikheid en gelyktydige skittering van geel – DIE AARD VAN DIE KLEUR – uitdrukking vind. Wat het dus werklik gebeur?
Ons het probeer om die kleur se inherente kragte sigbaar en ervaarbaar, in balans te bring en orde te skep. En as bonus het ʼn buitelike ruimte ontstaan – stralend!, uitwaarts!, DÍS GEEL!
Kwetterwerf: http://voetpadmetkleur.wordpress.com
Webwerf: www.louw.co.za
LW: Laat weet asseblief by wyse van ‘kommentaar’ of u reggekom het met die eksperiment en deel iets van jou ervaring met jou medelesers.





4 Kommentaar
Comments feed for this article
Mei 19, 2010 at 9:13 vm
Magda du Toit
Haai, ek het my nou heerlik vir ‘n rukkie verloor op jou kwetter- en webwerf – ja, albei! Lekker gelees en baie geleer.
Ek kom pas uit die Noord-Kaap waar die veld vanjaar besonder mooi is. Die kleure vroegoggend en laatmiddag wanneer die son net so ‘n stukkie aarde raak, is ongelooflik. En dit is miskien juis die lig in jou skilderye wat dit moeilik maak om te kies. Dis treffend en party keer wil ek net-net sê: “Ek was ook al daar”.
As ek een toneel moet uitsonder, is dit die versamelvoëlnes in die enkel kameeldoringboom op die byna grenslose grasvlakte – so asof die natuur iets oor Iemand wil sê.
Dankie, Louw, dat jy vandag my lewe weer tot stilstand gebring het en dat ek myself so ‘n rukkie kon verloor midde-in ‘n dolle gejaag. Mooi bly!
Mei 19, 2010 at 9:30 vm
voetpatmetkleur
Magda,
Baie dankie vir jou kommentaar. Dit maak sommer die lewe iets om te vier net om te hoor dat wat jy probeer doen of met ander probeer deel, vir iemand êrens iets beteken. Louw.
Mei 30, 2010 at 2:21 nm
Nesta Carsten
Beste Louw,
Wat ‘n heerlike verassing om op jou website af te kom. Ek was aan die soek na boeken van Gladys Mayer, en toe kom ek per ongeluk op jou web en blog af. Ek het dadelik gesien dat ek ‘n juweel ontdek het! Jou skilderye is pragtig, die kleure treffend en die sfeer asem Afrika.
Tot my verbasing sien ek die oefeninge van Gerard Wagner in jou blog! Ek het naamlik sopas sy boek oor die individualiteit van die kleure deurgewerk, omdat ek graag met kleur werk en daar meer van wil weet.
Ek is nie ‘n kunsskilder nie, maar het vanuit my werkgebied al baie met die kleureleer van Goethe te doen gekry (onderwijs Steiner-pedagogiek en heilpedagogiek) Ek nader aftree-ouderdom en wil graag as hobby verder met skilderwerk aan die gang. Ek is maar baie amateuragtig besig, maar die kleure as ontwikkelingsweg spreek my diep aan.
Dus wil ek net dankie sê dat jy dit op internet geplaas het – ek gaan al die oefeninge nou weer van voor af deurwerk, jou blog volgend!
En die stukies prosa en die gedigte is ook pragtig – ‘n lekker pasella vir iemand wat net nou en dan trug kan gaan huis-toe, vir ‘n vakansietjie!
Nogmaals baie dankie!
Nesta Carsten
Junie 5, 2010 at 3:11 nm
Gerrit JA Visagie
Wat ‘n wonderlike versameling van eg Suid Afrikaanse landskape. Baie dankie dat jy bereid is om jou ervaring met kleur met ons gewone ouens te deel.