Dit is die skitterende liggewendheid wat van GEEL in die vorige aflewering die bloedbroer van WIT maak. Die vraag is: “Wat verwag jy van die ander twee broers van hierdie ‘drieling’, naamlik die res van die drie primêre kleure – GEEL, BLOU en ROOI?
As iets van die stralende aard van GEEL in die vorige oefening jou binnekant geroer het, is ‘fantasie’ besig om te ontwaak. Dan is dit tyd dat jy met die ander twee van die drieling met dieselfde ontvanklike gemoed kennis maak.
Net kortliks – my ervaring met hierdie tipe van oefeninge of eksperimente is dat dit eintlik materiaal vir ernstige nadenke is waarvan ‘n groot deel verskuil lê in die weer- of herdoen van die oefeninge met ‘n opregte gesindheid van dieper delf. Dis dán wanneer fantasie deure begin open soos: Hoe sal die ander skakerings van geel (medium- en/of diepgeel) in soortgelyke toetse reageer? En wat van die hele spektrum van geel in die velde van die Suid-Afrikaanse winterlandskap – of selfs die malse geel-groen skakerings van die eerste lentegroei? Dan ook sommer die groet van geel in die eerste oggendlig en die taan deur oranje na rooi by die nagedagtenisse van die dag? Al hierdie en soortegelyke goeters maak waarneming ‘wakker’ en kleure gaandeweg die dialek van die hart – terselfdertyd die dialek wat die kunsliefhebber verryk!
Om agter die kap van die BLOU byl te kom, gebruik ons dié keer die koue pruisieseblou (Prussian Blue).
BLOU in WIT
Kom ons probeer eers ‘n blou “O” (Fig. 4) en ‘n blou “C” (Fig. 5) op ‘n wit agtergrond – net om ‘n aanduiding te kry van hoe dié twee vorms (die ‘O’ as synde ‘toe’ en die ‘C’ as ‘oop’) teenoor wit reageer en of daar dalk tekens van ‘n verskil in gevoelswaarde te bespeur is – iets anders as by geel.
In albei gevalle ervaar ek die ‘blou’ behoudend in sigself gekeer en ewe afsydig en koud teenoor die ‘wit’. Of sou dit dalk iets te maak hê met die harde, as ‘t ware berekende etslyn tussen die twee kleure – hetsy sogenaamd ‘binne’ of ‘buite’? Of kan ‘n mens tog in die ‘opening’ van die C (Fig. 5) iets van ‘n soort erkenning ten opsigte van wit bespeur? Hierdie vergelyking het één voordeel: Dit dwing jou om minstens Fige. 1 en 2 (met geel) ook enduit met BLOU te herhaal (soos in Fige. 6 en 7).
Dit lê voor die hand dat hierdie koue skadukleur, (Fig. 6), vergeleke met die vrolike liggewendheid van GEEL, ‘n andersoortige verhouding tot WIT het. Teenoor die stralende lig en warmte van GEEL, voel ‘n mens by BLOU ‘n terughoudende koudheid aan ten opsigte van WIT. Vergelykenderwys is daar ten opsigte van BLOU dus teenstellende kragte aan’t werk vergeleke met GEEL, soos :
GEEL………………………… BLOU
Helder en vrolik. Donker en swaarmoedig
Tuis in WIT Sku teenoor WIT
Stralend Teruggetrokke
Uitasem Inasem
Tog tree ‘n subtiele gevoelswaarde ten opsigte van WIT in sodra die intensiteit van die blou aan die boonste donkerste rand verdiep word (Fig 7). Maar anders as by GEEL, is BLOU steeds stram om uitwaarts in WIT te “VERVLOEI“
- Ná behoorlike wik en weeg, weerspieël (Fig.8) weliswaar iets vergelykbaar met inaseming en selfs asem inhou! Só gesien, is BLOU blykbaar tog gewillig om WIT as ‘t ware ‘in te nooi’ – op te neem en sigself ter wille van goeie balans, van binne af na die buiterand te konsentreer of verdiep. By nadenke oor hierdie neiging om “in te nooi”, kan blou selfs ‘n gevoel van afwagting of tuiskoms skep.
- ‘n Mens kan dit ook anders stel: In terme van gevoelswaarde het dié kleur die vermoë om TE WIL OMHELS – amper asof jy jou moet teësit om nie op dié kleur ‘verlief’ te raak nie!
- In die natuur is die horisontale ‘terugtrek-aksie’ van ligter wordende BLOU sinoniem met groter wordende afstand soos in die geval van veraf berge vergeleke met donkerder BLOU in die geval van nader berge.
- Die vertikale ‘terugtrek-aksie’ van lig- na donker wordende BLOU soos vanaf die horison hoër op in die hemelruim veral op ‘n helder wintersdag waargeneem kan word, neig weer om die binnemens as deel van die kosmos te verwelkom.
- By uitstek pas hierdie unieke terugtrek-eienskap van BLOU die skep van kleurperspektief in veral ‘n landskapskildery soos ‘n handskoen, pleks van die meer ‘geforseerde’ lineêre perspektief op die plat oppervlak van die skilderdoek!
- Meegaande “Jakarandalaan” (hieronder) is ‘n goeie voorbeeld van voorgenoemde. Let op hoe die kleurperspektief (bome teen lug) die effek van die lineêre perspektief in die voorgrond oorskadu en die aandag telkens op die bloeisels en die diepte daaragter vestig.

An interesting and exciting combination of colour- and linear perspective.
“Jakaranda Avenue” – In Cullinan, the diamond city of South Africa and
only 40 minutes by road north-east op Pretoria.
Kwetterwerf (BLOG): http://voetpadmetkleur.wordpress.com
Webwerf: www.louw.co.za





1 comment
Comments feed for this article
Junie 19, 2010 at 4:01 nm
Nesta Carsten
Baie dankie vir die lekker wandeling langs die blou paadjie. Die wyse waarop jy blou se storie vertel en toegepas het, maak mens sommer lus om self met die kleur aan die slag te gaan. Ek het die oefeninge maar in waterverf, waar ek aan gewoond is, gedoen.
Die toepassing in jou jakarandastraat is pragtig. Self het ek in my hoërskooldae in so ‘n jakarandastrraat in Petoria grootgeword – dit laat mens sommer baie verlang. Dit is treffend hoe die karakter van blou in die skildery sigbaar is.
En die geel winter grasvlaktes waarvan jy in die vorige aflewering gepraat het, verskyn nog steeds voor my geestesoog. Baie dankie vir die geleentheid om saam met jou op hierdie kleurpaadjie te stap!
Nesta Carsten