You are currently browsing the monthly archive for December 2010.
KLEURE EN DIE BINNEMENS - DIE PSIGIESE EFFEK
Voordat ons afstap van die basiese drieling, is dit belangrik om daarop te let dat kleur as sodanig nie net ‘n gewoon fisiese verskynsel is nie. Dit het ook ‘n belangrike metafisiese eweknie waarna reeds in die eerste aflewering van hierdie reeks verwys is. Daarom die interaksie: ‘Kleure en die Binnemens’ – oftewel ‘Kleur-&-Gevoel’, dus die psigiese invloed van kleur. In die studie “Goethe’s Theory of Colour” (Applied by Maria Schindler) E stel laasgenoemde hierdie dualiteit in duidelik perspektief. Trouens, begrip van hierdie werklikheid is die fondament vir enige vorm van kleurgebruik – maar veral vir die kunsskilder.
Delf ‘n mens dieper in die soeke na die aard van die primêre- en die komplimentêre kleure, ontdek jy in albei gevalle die neiging tot die vorming van drietalle. Dit beteken al die verskille in ‘gevoel’ word in ‘n groot mate deur die interaksie van drie kragte bepaal.
“Dit is wesentlik vir die ernstige skilder om ‘n objektiewe en diepgaande begrip te ontwikkel vir hierdie invloede op die binnemens. Weet hy watter gevoelens bepaalde kleurkombinasies wek, kan hy toonwaardes gebruik wat by die siel van die onbevange toeskouer op dieselfde ‘golflengte’ inskakel ten opsigte van wat weergee word”, sê Schindler oor die praktiese toepassing van Goethe se kleurstudies.
“Reeds teen die middel van die 20ste eeu was dit al duidelik dat mense se reaksie ten opsigte van kleur se eiesoortige onveranderbare wette moes plek maak vir persoonlike smaak en siening. Daarom dui vandag se sogenaamde verligtheid op ‘n chaotiese afsaksel in die mens se siel wat twyfel wek oor die geestelike aard van kleur. In die kleureryk kan hierdie twyfel net wyk wanneer die basiese elemente van die effek van kleur in diepte van kennis geneem word.
“Wanneer die skilder dit beproef in ooreenstemming en met inagneming van die mens se natuurlike sielseienskappe, word hierdie oënskynlike dualiteit in ‘n hegte eenheid gebind. Die gevolg: Die kunstenaar ontdek gou dat sy eie gevoelens bevry raak uit die smal gang van eie voorkeure en hy hom met vreugde in die werklike kleure-sensasie kan verlustig.
“Hierdie fenomeen kan ‘n wonderlike ervaring vir elke mens word. Sekerheid by die gebruik van kleur word ingeskerp. Soos die swel en eb van melodieë die intensiewe luisteraar beïnvloed, lei die bewustelike gebruik van versoenende of teenstrydige kleure die onbedorwe toeskouer direk in die gevoelsfeer wat die kunstenaar wou skep.
“Egte kleurervarings berus op die harmonieuse, of enkelsydige verspreiding van die drieling – geel, blou en rooi. Onbewustelik het elke mens ‘n blywende hunkering na dié drieling. Dis ‘n waarheid wat net sin kan maak wanneer ‘n mens terselfdertyd bewus is van die drievoudige struktuur van die menslike siel. Dit gaan dus oor die voortdurende innerlike stryd om harmonie tussen die drie grondeienskappe, naamlik denke, wil en gevoel:
- Soms het helder denke die oorhand wat maklik aanleiding gee tot bepaalde psigiese koudheid;
- Of die oorywerige wil kan onbeteuelde neigings toon wat behae daarin skep om met ongesonde drifte vure aan te steek;
- En as teenvoeter – ‘n oorsensitiewe emosionele “gevoel” kan die ander twee só onderdruk dat stompsinnigheid begin intree.
Wanneer die primêre ‘drieling’ harmonieus in ‘n kunswerk aanwesig is, voel die siel ook gebalanseerd en is nie geïrriteerd of depressief nie. Eweso kan werke met óf te veel óf te min van een van die drie, die teenoorgestelde effek toon,” aldus Schindler.
E “Goethe’s Theory of Colour” – (Applied by Maria Schindler) – 1964 Edition
New Knowledge Books, 18 Elizabeth Crescent, EAST GRINSTEAD, Sussex. England.
“Sleeping Beauty in vroeë Môremis”
(Langeberge, Riversdal.) 70 cm x 50 cm – Akriel op doek.
Hierdie werk is vanaf onderlae enduit net met skakerings van die drie primêre kleure en wit opgebou. Aanduidings van komplimentêre onderlaag tinte is subtiel in die oorspronklike werk sigbaar en beïnvloed veral die diepte-balans.
Kwetterwerf (BLOG): http://voetpadmetkleur.wordpress.com
Webwerf: www.louw.co.za
Rooi in Wit
ROOI is die laaste vennoot van die groep primêre kleure wat op ‘n spesifieke manier op die mens se gevoel aanspraak maak en daarmee, weens ‘n unieke aard, die penne van sy kleim op ‘n eie manier in die kleuresfeer inslaan.
Vermiljoen-rooi (Vermilion is die beste keuse vir hierdie oefening).
Rooi wek ‘n totaal ander gevoel van ‘krag’ wat jou in jou binnemens as konfronteer. Dit wek ‘n ondubbelsinnige gevoel van weerstand ten opsigte van WIT (Fig. 7). Dit word veral duidelik wanneer in ( Fig. 8 ) probeer word om die vorige (Fig’e. 2 en 5) soos by GEEL en BLOU te herhaal, verduidelik Koch en Wagner D.
![]() |
![]() |
Fig. 7 Fig. 8
Dadelik ervaar jy dit: Die krag waarmee ROOI sigself in Fig. 7 aanmeld, word in Fig. 8 ondermyn. Dis soos vloeiende water op sand wat knaend die sand onder jou voete wegkalwe. In goeie Afrikaans sou ek rooi graag ‘n ‘EGO’-kleur wil noem – daarmee wil ek sê dis dié kleur met die sterkste eiesoortige ‘EK’kigheid van aard!
‘n Gewilde Engelse benaming vir ROOI is “PUT COLOUR” – bedoelende daarmee `voorop’ ten opsigte van kleurperspektief – presies die teenoorgestelde van BLOU wat ruimtelik verder verflou en jou agterna trek. Iets van Rooi se EKkigheid spreek ook uit die opsigtelike gebruik daarvan in “Plaasdam op die Waterberg-plato” (Hieronder).
‘n ROOI boom? ‘n Mens sien dit minstens eerste teen die agtergrond van die res van die landskap. En hoe langer jy stip daarna staar, hoe interessanter raak die strelende komplimentêre groen wat sigself in die oog voordoen aan die buiterand van die rooi. Dis boonop ‘n sagter groen as ‘bloekomboom-groen’ weens ‘n “veeg” warmkleur son bykans op die horison.
Eie Nis
En só is elk van die “primêre drieling” in wese en aard die mees individuele vertolker of beliggaming van ‘n sleutelposisie of eie nis in die totale kleuresirkel.
Dis die skilder wat nie met kleur nie, maar vanuit kleur probeer skilder, se taak om op grond van soortgelyke insigte sy eie kleur-harmonieë in die natuur te ontdek. Hy moet vir homself duidelikheid kry oor wat gebeur met geel, blou en rooi wanneer hulle na òf die “warm” òf die “koue” kant oorhel. Bly geel nog geel? Bly blou nog blou? Bly rooi nog rooi?
Volgens Koch en Wagner D is antwoorde op hierdie vrae te soek aan die hand van ‘n kleuresirkel wat juis op die unieke aard van elke primêre kleur gefundeer is. Op pad lê daar egter nog baie fyner waarnemings voor ten opsigte van kleurverhoudinge in gehaltewaarde .
D “The Individuality of Colour” Contributions to a Methodical Schooling in Experience of Colour, Elisabeth Koch & Gerard Wagner. Rudolf Steiner Press, London. ISBN 0 85440 365-5
“Plaasdam op die Waterberg-plato” – (Vaalwater, Limpopo Provinsie)
(40 cm x 40 cm - Akriel op Doek)
Die sterk kleurperspektief as gevolg van die rooi is goed gebalanseer
met die intenser kleur in die weerkaatste lugruim op die watervlak.
Kwetterwerf (BLOG): http://voetpadmetkleur.wordpress.com
Webwerf: www.louw.co.za




