Rooi in Wit

ROOI  is die laaste vennoot van die groep primêre kleure wat op ‘n spesifieke manier op die mens se gevoel aanspraak maak en daarmee, weens ‘n unieke aard, die penne van sy kleim op ‘n eie manier in die kleuresfeer inslaan.

Vermiljoen-rooi (Vermilion is die beste keuse vir hierdie oefening).

Rooi wek ‘n totaal ander gevoel van ‘krag’ wat jou in jou binnemens as konfronteer. Dit wek ‘n ondubbelsinnige gevoel van weerstand ten opsigte van WIT (Fig. 7). Dit word veral duidelik wanneer  in ( Fig. 8 ) probeer word om die vorige (Fig’e. 2 en 5) soos by GEEL en BLOU te herhaal, verduidelik Koch en Wagner D.

Fig.  7                                                                       Fig.  8

Dadelik ervaar jy dit: Die krag waarmee ROOI sigself in Fig. 7 aanmeld, word in Fig. 8 ondermyn. Dis soos vloeiende water op sand wat knaend die sand onder jou voete wegkalwe. In goeie Afrikaans sou ek rooi graag ‘n ‘EGO’-kleur wil noem – daarmee wil ek sê dis dié kleur met die sterkste eiesoortige ‘EK’kigheid van aard!

‘n Gewilde Engelse benaming vir ROOI is “PUT COLOUR” – bedoelende daarmee `voorop’ ten opsigte van kleurperspektief – presies die teenoorgestelde van BLOU wat ruimtelik verder verflou en jou agterna trek. Iets van Rooi se EKkigheid spreek ook uit die opsigtelike gebruik daarvan in “Plaasdam op die Waterberg-plato” (Hieronder).

‘n ROOI boom? ‘n Mens sien dit minstens eerste teen die agtergrond van die res van die landskap. En hoe langer jy stip daarna staar, hoe interessanter raak die strelende komplimentêre groen wat sigself in die oog voordoen aan die buiterand van die rooi. Dis boonop ‘n sagter groen as ‘bloekomboom-groen’ weens ‘n “veeg” warmkleur son bykans op die horison.

Eie Nis

En só is elk van die “primêre drieling” in wese en aard die mees individuele vertolker of beliggaming van ‘n sleutelposisie of eie nis in die totale kleuresirkel.

Dis die skilder wat nie met kleur nie, maar vanuit kleur probeer skilder,  se taak om op grond van soortgelyke insigte sy eie kleur-harmonieë in die natuur te ontdek. Hy moet vir homself duidelikheid  kry oor wat gebeur met geel, blou en rooi wanneer hulle na òf die “warm” òf die “koue” kant oorhel. Bly geel nog geel? Bly blou nog blou? Bly rooi nog rooi?

Volgens Koch en Wagner D is antwoorde op hierdie vrae te soek aan die hand van ‘n kleuresirkel wat juis op die unieke aard van elke primêre kleur gefundeer is. Op pad  lê daar egter nog baie fyner waarnemings voor ten opsigte van kleurverhoudinge in gehaltewaarde .

D “The Individuality of Colour” Contributions to a Methodical Schooling in Experience of Colour,   Elisabeth Koch &  Gerard Wagner. Rudolf Steiner Press, London.    ISBN 0 85440 365-5

“Plaasdam op die Waterberg-plato”(Vaalwater, Limpopo Provinsie)

(40 cm x 40 cm  -  Akriel op Doek)

Die sterk kleurperspektief as gevolg van die rooi is goed gebalanseer

met die intenser kleur in die weerkaatste lugruim op die watervlak.

Kwetterwerf (BLOG):  http://voetpadmetkleur.wordpress.com

Webwerf:  www.louw.co.za