KLEURE EN DIE BINNEMENS  -  DIE PSIGIESE EFFEK

Voordat ons afstap van die basiese drieling, is dit belangrik om daarop te let dat kleur as sodanig nie net ‘n gewoon fisiese verskynsel is nie. Dit het  ook ‘n belangrike metafisiese eweknie waarna reeds in die eerste aflewering van hierdie reeks verwys is. Daarom die interaksie: ‘Kleure en die Binnemens’ – oftewel ‘Kleur-&-Gevoel’,  dus die psigiese invloed van kleur. In die studie “Goethe’s Theory of Colour” (Applied by Maria Schindler) E stel laasgenoemde hierdie dualiteit in duidelik perspektief. Trouens, begrip van hierdie werklikheid is die fondament vir enige vorm van kleurgebruik – maar veral vir die kunsskilder.

Delf ‘n mens dieper in die soeke na die aard van die primêre- en die komplimentêre kleure, ontdek jy in albei gevalle die neiging tot die vorming van drietalle. Dit beteken al die verskille in ‘gevoel’  word in ‘n groot mate deur die interaksie van drie kragte bepaal.

“Dit is wesentlik vir die ernstige skilder om ‘n objektiewe en diepgaande begrip te ontwikkel vir hierdie invloede op die binnemens. Weet hy watter gevoelens bepaalde kleurkombinasies wek, kan hy toonwaardes gebruik wat by die siel van die onbevange toeskouer op dieselfde ‘golflengte’ inskakel ten opsigte van wat  weergee word”, sê Schindler oor die praktiese toepassing van Goethe se kleurstudies.

“Reeds teen die middel van die 20ste eeu was dit al duidelik dat mense se reaksie ten opsigte van kleur se eiesoortige onveranderbare wette moes plek maak vir persoonlike smaak en siening. Daarom dui vandag se sogenaamde verligtheid op ‘n chaotiese afsaksel in die mens se siel wat twyfel wek oor die geestelike aard van kleur. In die kleureryk kan hierdie twyfel net wyk wanneer die basiese elemente van die effek van kleur in diepte van kennis geneem word.

“Wanneer die skilder dit beproef in ooreenstemming en met inagneming van die mens se natuurlike sielseienskappe, word hierdie oënskynlike dualiteit in ‘n hegte eenheid gebind. Die gevolg: Die kunstenaar ontdek gou dat sy eie gevoelens bevry raak uit die smal gang  van eie voorkeure en hy hom met vreugde in die werklike kleure-sensasie kan verlustig.

“Hierdie fenomeen kan ‘n wonderlike ervaring vir elke mens word. Sekerheid by die gebruik van kleur word ingeskerp. Soos die swel en eb van melodieë die intensiewe luisteraar beïnvloed, lei die bewustelike gebruik van versoenende of teenstrydige kleure die onbedorwe toeskouer direk in die gevoelsfeer wat die kunstenaar wou skep.

“Egte kleurervarings berus op die harmonieuse, of enkelsydige verspreiding van die drieling – geel, blou en rooi. Onbewustelik het elke mens ‘n blywende hunkering na dié drieling. Dis ‘n waarheid wat net sin kan maak wanneer ‘n mens terselfdertyd bewus is van die drievoudige struktuur van die menslike siel. Dit gaan dus oor die voortdurende innerlike stryd om harmonie tussen die drie grondeienskappe, naamlik denke, wil en gevoel:

  • Soms het helder denke die oorhand wat maklik aanleiding gee tot bepaalde psigiese koudheid;
  • Of die oorywerige wil kan onbeteuelde neigings toon wat behae daarin skep om met ongesonde drifte vure aan te steek;
  • En as teenvoeter – ‘n oorsensitiewe emosionele “gevoel” kan die ander twee só onderdruk dat stompsinnigheid begin intree.

Wanneer die primêre ‘drieling’ harmonieus in ‘n kunswerk aanwesig is, voel die siel ook gebalanseerd en is nie geïrriteerd of depressief nie. Eweso kan werke met óf te veel óf te min van een van die drie, die teenoorgestelde effek toon,” aldus Schindler.

E “Goethe’s Theory of Colour”  – (Applied by Maria Schindler) – 1964 Edition

New Knowledge Books, 18 Elizabeth Crescent, EAST GRINSTEAD, Sussex. England.

“Sleeping Beauty in vroeë Môremis”

(Langeberge, Riversdal.) 70 cm x 50 cm – Akriel op doek.

Hierdie werk is vanaf onderlae enduit net met skakerings van die drie primêre kleure en wit opgebou. Aanduidings van komplimentêre onderlaag tinte is subtiel in die oorspronklike werk sigbaar en beïnvloed veral die diepte-balans.

Kwetterwerf (BLOG):  http://voetpadmetkleur.wordpress.com

Webwerf:  www.louw.co.za